Oorwinningskruis

Oorwinningskruis
Neem jou kruis op en volg My

Friday, May 25, 2007

Die Moord op Christus

Die volgende vers word tot vervelens toe aangebied om ons te oortuig dat God die moord op sy Kind gelas het om sy eie toorn te paai en daardeur die ewige lewe aan ons te gee.

Johannes 3

16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Daar staan egter nie dat God sy Kind gee sodat ons Hom moet martel en vermoor nie. Daar staan dat Hy aan ons die ewige lewe wil gee. Hoe kry ek toegang tot die ewige lewe? Jesus verduidelik self.

Johannes 11

26 en elkeen wat lewe en in my glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.

Johannes 17

3. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat u gestuur het.

Johannes 3:16 se verwysing daarna dat God sy Seun gestuur het om aan ons die ewige lewe te gee, kan mos nie gesien word as toestemming om sy Kind te vermoor nie. Die Messias se standpunt aangaande offerande is uitdruklik.

Matheus 12

7 Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid h'e en nie offerhande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.

Jesus was onskuldig. Jesus is veroordeel. Jesus is vermoor.

Jesus s'e dat God barmhartigheid soek en nie offers (moord) nie. Die Messias het ook uitdruklik verklaar dat sy Vader nie die Moord op Hom gelas het, of goedgekeur het nie.

Mattheus 21

37 Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.

38 Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.

39 En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.

40 Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?

41 Hulle antwoord Hom: Die slegte mense--hy sal hulle 'n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.

Dit is 'n infame en lasterlike leuen dat God die moord op sy Kind gelas het. In die bostaande gedeelte stel Jesus dit uitdruklik dat God nie deel van die moordkomplot was nie. Wie het die moord beplan?

Johannes 11.

45 En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.

46 Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het.

47 En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen?--want hierdie man doen baie tekens.

48 As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem.

49 En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie

50 en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.

51 En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.

52 En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg.

53 Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring.

Die moord is op 'n "kerkraadsvergadering" beplan. Kajafas misbruik sy posisie om 'n vals profesie uit te vaardig dat een man vir die volk sou sterf. Daardie een wat vir baie moes sterf is Jesus. Wie was nog betrokke by hierdie bose plan om Jesus te vermoor?

Johannes13.

2 En gedurende die maaltyd--die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai--

Wie anders as Satan self? Die moord is beplan en uitgevoer deur die "kerk" en Satan. Dit is 'n bose daad waarby God nie aandadig is nie. Die moordenaars kom met die idee vorendag om aan die volk te "profeteer" dat een man, naamlik Jesus, vir hulle sal sterf. En so is hierdie moord komplot tot die laaste letter uitgevoer.

Johannes 18

12 EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;

13 en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.

14 En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.

Hierdie leuen wat 2 000 jaar gelede op 'n "kerkraadsvergadering" uitgedink is, word vandag nog deur die kerk in stand gehou. Maar die einde daarvan is in sig.

Ek vind nie my saligheid in 'n bose plan van Satan nie.

Ek het nie die bloed van die Messias aan my hande nie.

Liefde groete.

Die Ou Man